
Die Regering moet eers net fokus om die hoenderkrisis op te los wat deur hoenderstorting uit die Europese Unie (EU) meegebring is, en nie op die transformasie van die sektor nie, sê die Food and Allied Workers Union (Fawu).
Dit is bekend dat transformasie in die land se pluimveebedryf nie na wense vorder nie, maar niks sal oorbly om te transformeer indien die kwessie nie vinnig opgelos word nie, nie.
Mnr. Katishi Masemola, algemene sekretaris van Fawu, sê die Regering moet onmiddellik invoertariewe vir hoender verhoog en teenstortingsbelasting oorweeg. Op die kort- tot mediumtermyn moet die moontlikheid van ’n “handelsoorlog” ondersoek word deur wedersydse tegniese versperrings vir handel op hoenderstukke aan die been in te stel wat Suid-Afrikaanse kettingwinkels van die EU invoer.
'Ons produkte word verbied'
“Dit kan nie wees dat ons pluimveeprodukte, spesifiek borsvleis, toegang tot die EU verbied word weens sogenaamde ‘voëlgriep by volstruise’ nie. Voëlgriep kom ook in die EU voor, soos onlangs in sy ‘werklike pluimveesektor’, en ons het die veiligheidsmaatreëls verwyder toe hulle eenparig beweer het dat hulle vry van voëlgriep is, sonder dat ons eens voldoende verifikasie van hulle bewerings gedoen het,” het Masemola gesê.
Mnr. Patrick Maloyi, ANC-sweep van die Nasionale Vergadering, het Fawu gevra of die Regering hoendermaatskappye wat toegemaak het weens die krisis onder sy vlerk moet neem of help met subsidies vir sekere insetkoste. Masemola het aangedui dat Fawu nie ’n probleem het met die voorstel dat die Regering die maatskappye oorneem nie, maar voeg by dat dit nie ’n verskil sal maak as die hoenderstorting nie stop nie. “As ons nie as ’n sektor oorleef nie, sal daar nie transformasie wees om van te praat nie.
“Transformasie is noodsaaklik, maar laat ons eers die krisis oplos,” het hy gepleit. Die oorlewing van die land se voedselsekuriteit, die landelike ekonomie en 130 000 werkers en hulle gesinne, is nou grootliks in die hand van die Regering.