
Omgewingsorganisasies wag nog op finale regulasies wat moet help om die impak wat die ontginning van skaliegas deur hidroliese breking op die omgewing kan hê, te bestuur, sê me. Catherine Horsfield, 'n prokureur by die sentrum vir omgewingsregte (CER: Centre for Environmental Rights). "In Maart het me. Edna Molewa, minister van Water- en Omgewingsake, gesê die finalisering van die regulasies vir hidrobreking is op hande."
Horsfield sê hulle was "ietwat verras" om dié aankondiging van die minister van water- en omgewingsake te hoor, veral omdat die voorgestelde regulasies wat op 13 Oktober deur die departement van minerale hulpbronne in die Staatskoerant gepubliseer is, tog onder die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumbronne, wat die domein van die departement van minerale hulpbronne is, gepromulgeer gaan word.
"Ons wag en kyk om te sien hoedanig, indien enigsins, kommentaar wat in 2013 op die regulasies gelewer is, in die finale regulasies vervat sal word." Horsfield sê hulle het van CER se kant kommentaar gelewer op die voorgestelde regulasies wat op 13 Oktober in die Staatskoerant gepubliseer is, én, wat hulle reken, minimum vereistes is vir die bestuur van omgewingsimpakte, op hul webwerf gepubliseer.
"Dis vereistes wat ons beskou as die minimum regulasies wat ingestel moet word vóórdat hidrobreking toegelaat word om die impak van hidrobreking op die omgewing te bestuur."
Die vereistes wat die CER stel, sluit onder meer in dat dit moet voldoen aan die bepalings van bestaande wetgewing, veral die Grondwet en nasionale wette oor die bestuur van die omgewing, water en afval en luggehalte. Verder vereis hulle dat die regulering van die impak wat hidrobreking op die omgewing het, gelykstaande moet wees aan die beste internasionale praktyke en die beste internasionale regulasies.
"Benaderings tot die regulering van die impak op die omgewing kan nie net die standaarde van die Amerikaanse Petroleuminstituut oorweeg nie, maar ten minste ook die regulasies wat die afgelope twee jaar deur byvoorbeeld die Internasionale Energie-agentskap, die Europese Kommissie, Amerika se Agentskap vir Beskerming van die Omgewing en die regulasies van die Verenigde Koninkryk se departement van energie en klimaatverandering."
Hulle vereis ook dat die regulasies op 'n "geïntegreerde en vaartbelynde" manier saamgestel word, en dat die impak wat hidrobreking op die omgewing het, deur 'n "geskikte en bevoegde" owerheid gereguleer word. Die CER het ook vroeër vanjaar deelgeneem aan 'n werksessie oor die regulering van omgewingsimpakte by onkonvensionele gas saam met die plaaslike departement van water- en omgewingsake en die Amerikaanse departement van buitelandse sake.