Landboufinansiers verstaan nie die behoeftes van klein- en opkomende boere genoeg nie, sê dr. Tobias Doyer, hoofbestuurder van Santam Landbou.
“Ons verstaan nie ontwikkelende boere nie, terwyl ons kommersiële boere se behoeftes baie goed verstaan. Ons versekeringsplanne werk goed vir kommersiële boere, maar dit gaan nie noodwendig kleinboere help nie.”
Doyer was ’n spreker tydens die Landboubesigheidskamer (LBK) se finansieringswerkswinkel, wat onlangs by die LBK se hoofkantoor in Pretoria gehou is.
’n Eeu gelede was al Suid-Afrika se boere ontluikende landbouers. In daardie stadium het landboukoöperasies daardie boere se behoeftes perfek verstaan, sê Doyer.
“Dinge het intussen verander tot ’n wêreld waar kommersiële boerdery deesdae hoogs gesofistikeerd is. Die landboubesighede (destydse koöperasies) en kommersiële boere is die beste toegerus om opkomende boere te help, maar ons sal moet uitvind wat ontluikende boere se behoeftes is.”
Wie se verantwoordelikheid?
Duideliker grense is nodig om te weet watter risikodekking die Regering en watter die private sektor se verantwoordelikheid is, sê Doyer.
“As die Minister (van Landbou, Bosbou en Vissery) byvoorbeeld sê die Regering moet ramphulp gee, is dit goed, maar dan moet sy duidelikheid gee oor die scenario waarbinne dié hulp gegee word,” sê Doyer.
Byvoorbeeld, as dit ’n honderdjaar-vloed is, moet die Regering help. As dit ’n vyftigjaar-vloed is, is dit die private sektor se verantwoordelikheid. ’n Vloed wat elke dekade voorkom, kan dan as ’n gegewe geklassifiseer word, wat die verantwoordelikheid op die boer se skouers sal plaas.
Doyer sê die Regering moet by versekering betrokke wees, omdat kwessies soos sistemiese risiko’s (bv. vloedskade) só groot kan word dat dit die Suid-Afrikaanse ekonomie in geheel kan knou. “Die verpolitisering van dié funksie is egter ’n groot probleem.”
Doyer sê versekeringsdekking is net ’n deel van die oplossing vir skade wat boere ly. Wanneer ramphulp gestruktureer word, word net op die boere gefokus wat benadeel is. “Die invloed van die ramp strek dikwels veel wyer as net die boere.”
Doyer sê ’n boer se vermoë om te boer, moet ernstig bekyk word. “As een boer se grootste risiko byvoorbeeld op ’n bestuursvlak lê, is dit eintlik onregverdig dat ’n ander boer sy of haar risiko moet deel wanneer dit kom by weerspatrone.”
Doyer sê die koste om kontrakte met ’n klomp klein boere te sluit is ook duurder as om enkele groot kontrakte te sluit. Dít benadeel kleiner boere, wat reeds nie dieselfde vermoë as ’n gevestigde kommersiële boer het om risiko’s te oorkom nie.
19 April 2011