
Die Suid-Afrikaanse landbou moet hom, soos in die res van die wêreld, op mededingende voedselproduksie toespits.
Prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom aan die Vrystaatse Universiteit, sê in teenstelling met die wêreldwye debat oor volhoubare voedselproduksie, is die fokus in Suid-Afrika op bestaansboerdery en die Regering se beleid van ’n landheerstelsel om sy verstedelikte bevolking van sowat 40 miljoen mense te voed.
Willemse het op die Vrystaatse kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Bloemfontein gesê: “Terwyl die debat in die wêreld gaan om meer mense met minder insette kos te gee, praat ons in Suid-Afrika ’n ander taal.”
Willemse het verwys na die vermorsing van hulpbronne en mislukte grondhervorming en die waarde van die rand wat ineenstort te midde van stygende voedselpryse. Sy beroep op die Regering is om die ekonomie te stimuleer en werk te skep in ’n verstedelikte omgewing.
Dr. André Jooste, uitvoerende hoof van Aartappels SA, sê die verbruik van rooivleis sal op kort termyn onder druk bly, maar kan deur veranderende verbruikersvoorkeure op medium en lang termyn hoër neig. Hy het produsente daarop gewys dat hoë pryse nie verwag kan word indien die hoë insetkoste en die beskikbaarheid van goedkoper plaasvervanger-produkte in ag geneem word nie. Buite-faktore soos roofdier-skade, veediefstal en dieresiektes is steeds ’n uitdaging wat buitengewone ingryping vereis, sê Jooste.
Byskrif: Sprekers en aanwesiges op die Vrystaatse kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie in Bloemfontein, was van links mnre. Nelius Ferreira (ondervoorsitter, Vrystaatse RPO), James Faber (voorsitter, Noord-Kaapse RPO); dr. André Jooste (Aartappels SA), mnre. Francois du Toit (ondervoorsitter, Oos-Kaaplandse RPO), Hendrik van Pletzen (Voermol) en Albert van Rensburg (Biomin). Foto: Johan Norval. Klik op foto hieronder om te vergroot.