
Die farmaseutiese potensiaal van seeplante soos rooi alge en die moontlikheid om weldra daarmee in die Oos-Kaap te boer gaan ondersoek word in ’n nuwe navorsingseenheid by die Universiteit van Fort Hare (UFH).
“Dis ’n belangrike beginpunt om oseaangebaseerde landboubedrywighede te versnel in pas met landgebaseerde landbou-aktiwiteite,” sê die UFH in ’n verklaring.
Die mariene laboratorium vir bio-ekonomie en bio-ontdekking is ’n gesamentlike inisiatief tussen die UFH en die nasionale navorsingstigting se Suid-Afrikaanse instituut vir akwatiese biodiversiteit. Dit word deur die Suid-Afrikaanse departement van wetenskap en innovasie gefinansier.
“Die seegebied rondom Suid-Afrika het groot potensiaal vir ekonomiese ontwikkeling. Dis noodsaaklik om die nodige geriewe en kundige mense te hê sodat oseane as ’n waardevolle hulpbron volhoubaar benut word,” het prof. Graeme Bradley, dekaan van die fakulteit vir wetenskap en landbou aan die UFH, gesê.
Nuwe verbindings wat nog nie voorheen aan onderwaterplante onttrek is nie, sal geïsoleer en bestudeer word met die hoop dat hulle algemene siektes soos diabetes en kankers kan genees. Rooi alge word reeds hiervoor by die UFH bestudeer.
Deur hierdie werk sal navorsers en studente se tegniese vaardighede ontwikkel word. “Ons navorsing sal moontlik bydra tot die ontwikkeling van `n oseaangebaseerde farmaseutiese en landbouverwerkingsekonomie vir die Oos-Kaap,” het prof. Sakhela Buhlungu, visekanselier van die UFH, gesê.