Die fout wat met die publisering van die loonsverhoging vir plaaswerkers gemaak is, is reggestel. Agri SA sê dié regstelling is in die Staatskoerant van 24 Februarie 2012 gedoen.
’n “Vingerfout” het volgens die Departement van Arbeid ingesluip met die eerste publikasie van die loonsverhoging vir plaaswerkers in die Staatskoerant van 18 Januarie 2012. Dié aankondiging het aangedui dat die minimum verhoging per week R374,10 is, pleks van die korrekte R347,10 per week.
Verwarring
Me. Elize van der Westhuizen, bestuurder van menslike hulpbronne by Agri SA, sê hulle is dankbaar dat die regstelling gemaak is, aangesien boere groot probleme met vakbonde ervaar het. Vakbondverteenwoordigers het glo op die hoër en verkeerde weeklikse loon aanspraak gemaak, wat op ’n hoër minimum maandelikse loon neergekom het.
Die organisasie wag steeds op antwoorde van die departement oor die samestelling van die model waarvolgens die volgende drie jaar se verhogings bereken sal word.
Dié model bepaal dat die minimum loon vir aanstaande jaar en 2014 saamgestel moet word uit die vorige jaar se minimum loon, plus die Verbruikersprysindeks plus 1,5%. Die VPI sal volgens die departement dié een van die laagste kwintiel wat ses weke voor die verhoging inskop, deur Statistieke SA bekend gemaak word.
Van der Westhuizen sê Agri SA wil van die departement weet hoekom die VPI wat gebruik is om die verhoging van 1 Maart vanjaar te bereken, nie aan dié vereistes voldoen nie. D
ie syfer wat gebruik is, is dié van Oktober verlede jaar, en nie November verlede jaar, wat nie die laagste kwintiel ses weke voor die verhoging ingestel word, verteenwoordig nie. Verder wil hulle ook weet hoekom ’n bykomende persentasie van 1,5% vir voedselinflasie bygereken word, terwyl dit nog altyd 1% was.
Die minimum loon vir plaaswerkers sal van Woensdag, 1 Maart af R1 503, 90 per maand, R347,10 per week en R7,71 per uur beloop.
Die regstelling in die koerant is aangeheg.
27 Februarie 2012