Die foutiewe minimum loonverhoging wat in die Staatskoerant gepubliseer is, veroorsaak reuse-hoofpyne, sê Agri SA.
Me. Elize van der Westhuizen, bestuurder van menslike hulpbronne, sê boere het tans hulle hande vol met vakbonde wat dié verkeerde verhoging vir plaaswerkers eis.
Die Departement van Arbeid het op 18 Januarie 2012 in die Staatskoerant gepubliseer dat die verhoging 9,3% of R374,10 per week beloop. Dié bedrag is egter R347,10, en Agri SA het reeds op 20 Januarie 2012 terugvoer van die departement ontvang dat die fout reggestel sal word.
“Die skrywe aan my het gesê die fout behoort voor 1 Maart 2012, wanneer die verhoging inskop, reggestel te wees,” sê Van Der Westhuizen. “Intussen maak vakbonde die lewe baie moeilik, want hulle dring aan op die verkeerde bedrag.”
Voedselinflasie
Luidens ‘n berig op News24.com het die Food and Allied Workers’ Union (Fawu) gemengde gevoelens oor die loonverhoging. “Ons is gelukkig… maar voedselpryse styg tans skerp, wat plaaswerkers verarm,” aldus mnr. Nelson Semenya, woordvoerder vir die vakbond in Limpopo.
Van der Westhuizen sê stygings in voedselpryse is wel in dié verhoging in ag geneem, met die persentasie vir voedselinflasie wat in die vasstelling verdubbel is. Die model vir die vasstelling van verhogings vir die volgende drie jaar is ook saam met dié verhoging vasgestel. Semenya meen dat dit egter voor 2014 hersien moet word.
In dié berig word die beweerde foutiewe bedrag ook weergegee. Volgens die berig sal die uurlike loon van R7,04 tot R7,71 styg, die weeklikse loon van R317,51 tot R374,10 en die maandelikse minimum loon van R1375,94 tot R1503,90.
Bron: News24.com
7 Februarie 2012