Nie alle inwoners van die Karoo is gekant teen planne om skaliegas daar te soek nie.
“Die meeste mense van die Karoo se stemme word nie gehoor nie. Die gemeenskappe van die Karoo wil namens hulself praat,” het mnr. Chris Nissen, verteenwoordiger van die Karoo-forum, gesê. Hy het tydens ’n ontbyt van die Kaapse Persklub gepraat.
Gebalanseerd en verantwoordelik
Me. Susan Shabangu, Minister van Minerale Hulpbronne, het op dieselfde geleentheid as spreker opgetree. Nissen het die forum se steun aan die soektog na skaliegas toegesê, “solank dit op ’n goed gebalanseerde en verantwoordelike manier plaasvind”.
Volgens Nissen is ekonomiese bedrywighede nodig, want die mense van die Karoo “sterf van armoede en siekte”. Hy sê die verskillende menings oor die ontginning van skaliegas is volgens die verdeling tussen ryk en arm.
Op dieselfde geleentheid het ’n verteenwoordiger van die Karoo Shale Gas Community Forum gesê daar is by hom geen twyfel dat die Regering die aangeleentheid “professioneel en verantwoordelik” hanteer nie.
Ontwikkeling en opheffing
Die mense van die Karoo hoop dat die ontginning van skaliegas tot ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling en opheffing sal lei. Die forum het drie voorwaardes gestel waarvolgens lisensies vir die ontginning van skaliegas in die Karoo toegeken moet word.
Daar moet ’n multidissiplinêre “meganisme” gestig word om die proses te moniteer. Dit moet daartoe “in staat wees om ’n lisensie terug te trek as daar nie aan die riglyne voldoen word nie”.
Daar moet voorkeur gegee word aan ondernemings in die Karoo-gebiede waar ontginning gaan plaasvind en daar moet werksgeleenthede vir jong mense van die Karoo geskep word. In reaksie op die voorstel vir ’n multidissiplinêre liggaam het Shabangu gesê die drie voorwaardes moet binne die regsraamwerk geskied.
29 Augustus 2011