
As die waardeketting net so sterk soos sy swakste skakel is, is fragmentasie die wynbedryf se Achilles-hiel, meen mnr. Abraham van Rooyen, uitvoerende bestuurder van die ANB-beleggingsgroep, wat drie jaar gelede die landgoed Zandvliet naby Ashton gekoop het.
“Ek los die pyn vir laaste!” het Abraham spottenderwys na die wynbedryf verwys tydens die Megaboere-gesprekreeks op die US Woordfees. Die groep het Zandvliet gekoop om hul sitrusaanplantings in die Wes-Kaap uit te brei.
“Ons is nou besig met die regrukaksie. As jy aan Zandvliet dink, dink jy aan Kalkveld Shiraz. Ons wil weer die fokus plaas op Shiraz en ’n internasionale handelsmerk bou. Dit gaan ’n klomp geld en tyd kos.”
Van Rooyen sê die wynbedryf is die “taaiste een” van al die bedrywe waarin hy al betrokke was. “Veral omdat dit so gefragmenteerd is. Elke outjie met 5 ha wingerd het ’n etiket of twee of drie of vier. Op produksievlak doen ons wynboere baie en die gehalte van hul produkte het baie verbeter, maar die swak skakel vir die wynbedryf sê vir my in die fragmentasie. Daar is te veel handelsmerke. Die arme verbruiker wat voor die rak moet staan, is totaal verward. En die werk! Ek haal my hoed af vir die harde werk wat hulle doen in terme van bemarking.”
Hy meen hierdie skakel moet versterk word. “Ons gaan konsolidasie moet kry en ouens gaan mekaar se hande moet vat, want ek dink die meeste wynboere maak nie geld nie of min geld.”