Die Franse egpaar wat verlede week vermoedelik ‘n polisiebeampte van Sutherland op ‘n plaas doodgeskiet het, is dalk gevind.
Lt.Kol. Hendrik Swart sê twee liggame is Donderdagoggend (20 Januarie 2011) in ‘n huis sowat een kilometer van die huis waar die moord plaasgevind het, gevind. “Die liggame moet nog uitgeken word. Ons kan nie met sekerheid sê dat dit die egpaar is nie. Skote is wel na die huis gevuur, maar ons is nie seker of die twee persone deur die polisie doodgeskiet is en of hulle selfmoord gepleeg het nie”, aldus Swart.
Uitkenning
Volgens Swart is die uitkenning van die twee persone hulle hoofprioriteit, en is die soektog na die egpaar vir eers gestaak. Sowat 50 polisiebeamptes het die afgelope week na die egpaar gesoek na die 27-jarige offisier Jacob Boleme verlede Vrydag (14 Januarie 2011) doodgeskiet is.
Hy en drie ander beamptes het die eienaar van die plaas, mnr. Gerdie du Plessis, se twee seuns Jean en Cobus, na die plaas vergesel. Die Du Plessis’s het die plaashuis vir die afgelope 12 jaar kosteloos aan die egpaar gehuur, en wou hê hulle moes die huis ontruim omdat die familie dit weer benodig het.
Die 60-jarige mnr. Philippe Pierre Meniere en 55-jarige me. Agnes Jeanne Jardel het na voorval die ander mans in ‘n voertuig agterna gesit en die 42-jarige offisier Glenwall du Toit is in die rug geskiet. Hy word in ‘n plaaslike hospitaal behandel.
20 Januarie 2011