Die Franse egpaar wat verlede week glo deur die Polisie op Sutherland doodgeskiet is, is uitgeken, aldus die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Lt.-kol. Hendrik Swart sê die Franse ambassade het die 60-jarige mnr. Philippe Meniére en die 55-jarige me. Agnus Jardel tydens ‘n lykskouing uitgeken.
Die egpaar is verlede week na ‘n dae lang soektog vermoedelik doodgeskiet tydens ‘n skietgeveg met die Polisie. Hulle is gesoek nadat hulle die 27-jarige offisier Jacob Boleme op Vrydag (14 Januarie) op ‘n plaas in die distrik doodgeskiet, en die 42-jarige offisier Glenwall du Toit in die rug gewond het.
Lees meer oor die voorval hier.
Begrawe soos armlastiges
Intussen berig News24.com dat die egpaar, volgens die Valke, soos armlastiges begrawe gaan word. Die Franse ambassade het glo aangedui dat hulle nie volle verantwoordelikheid vir die begrafnisse sal aanvaar nie.
Jardel se broer het glo ook aangedui dat sy in Suid-Afrika begrawe moet word. Dit is nie bekend wanneer die begrafnisse sal plaasvind nie.
Voorval ondersoek
Intussen sê mnr. Antoine Michon, die Franse konsulaat, hulle is oortuig dat die Polisie volgens voorskrifte opgetree het.
Die Onafhanklike Klagtedirektoraat ondersoek die voorval, en Michon sê hy is deur ‘n senior amptenaar ingelig dat die Polisie die egpaar wel die kans gegun het om hulself oor te gee. “Ons het geen rede om te glo dat die Polisie nie professioneel opgetree het nie,” sê Michon.
26 Januarie 2011
Bron: News24.com