Die Franse regering het die ontginning van skaliegas verbied ná sterk teenkanting van omgewingsgroepe.
Luidens ‘n berig in Volksblad (10 Oktober 2011) volg dié stap na twee maatskappye, die Franse Total en die Amerikaanse Schuepbach, toestemming ontvang het om in die suide van dié land vir skaliegas te prospekteer.
Me. Nathalie Kosciusko-Morizet, dié land se minister van omgewingsake, het volgens berigte bekend gemaak dat sy dié toestemming terugtrek. Die land se parlement het in Junie vanjaar ‘n wetsontwerp aanvaar wat die ontginning van skaliegas met behulp van hidroliese breking verbied.
Glo ongeloofwaardig
Maatskappye het glo twee maande tyd gekry om te bewys dat hulle ander, meer aanvaarbare metodes sou gebruik. Die minister sê die twee maatskappye se voorleggings was ongeloofwaardig, derhalwe is hulle permitte gekanselleer.
Skaliegas word wel op 61 ander plekke in Frankryk gesoek, maar omdat hidrouliese metodes nie gebruik word nie, mag die soektogte voorlopig voortgaan.
Die ontginning van skaliegas in Suid-Afrika sorg tans vir groot onenigheid tussen die olie-reus, Shell, omgewingsgroepe en inwoners van die Karoo.
Verbod onnodig in EU
Intussen berig News24.com dat mnr. Connie Hedegraad, die Europese Unie se hoofbeampte op die gebied van klimaatsverandering, Vrydag (7 Oktober 2011) gesê het nog geen behoefte bestaan om dié mynmetode in dié lande te verbied nie. “Ek sal nie ‘n moratorium oorweeg gebaseer op dit wat ek tot dusver gehoor het nie,” het hy aan die blok se media in Brussels, België, gesê.
Pole is glo ‘n groot voorstander van die tegnologie van hidroliese breking, want hulle reken dat die bykomende bronne van gas wat so ontgin word, die EU minder afhanklik van gas-invoere van Rusland sal maak.
Volgens Hedegraad kan die EU “nie bekostig om nee te sê” vir tegnologie wat steeds by ‘n vroeë stadium van ontwikkeling is nie, en hy sê die uitdagings rondom die tegnologie moet eers oorkom word voordat dit op ‘n wye skaal geïmplementeer kan word.
Bronne:
10 Oktober 2011