
Fred Mouton (74) was ’n besonderse mens met ’n besonderse talent as kunstenaar en een van daardie mense wat mens werklik as onmisbaar kan beskryf, sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad, nadat hy die nuus verneem het dat Fred oorlede is. “ ’n Mens kan die redakteur van ’n tydskrif vervang, maar nie iemand soos Fred nie.”
Fred het in 1974 by T.O. Honiball as spotprenttekenaar oorgeneem. Soos Honiball het Fred ook aanvanklik bekendheid verwerf vir sy politieke spotprente in veral Die Burger. Hy het opleiding in tegniese tekeninge aan die Kaapse Technikon ontvang, maar ook talle illustrasies vir storieboeke en realistiese tekeninge geskets.
Burgess beskryf Fred as ’n unieke mens wat nie net briljant was in sy werk nie, maar ook ure lank as ’n kok van formaat oor braaivleisgeregte kon gesels, braai en ’n glasie whisky geniet. “Al was hy nie ’n plaasjapie nie, kon hy ’n tipiese Bolandse plaashuisie en talle ander ikoniese landboutonele vaslê soos geen ander nie.”
By Landbouweekblad het Fred met ses redakteurs in sy loopbaan saamgewerk.
Jean du Preez, een van hierdie voormalige redakteurs, beskryf hom as ’n reus – letterlik en figuurlik. In ’n profiel oor Fred sê Du Preez hy het nie net in ou taal ses voet sewe in sy nommer 13-skoene gestaan nie, maar as spotprenttekenaar ewe hoog uitgetroon.
“Maar ’n nederiger reus as dié kry jy nie maklik nie. As jy sou waag om die word ‘legende’ met Fred te verbind, sal hy jou blitsvinnig met ’n handswaai in ’n ander rigting stuur en sê kom ons los dit nou maar daar.
“Vir ’n vreemdeling kon Fred soms nors voorgekom het, maar vir vertrouelinge en naby vriende was hy presies die teenoorgestelde. Hy kon uit die bloute grappe opdis wat jou laat dubbeld vou het van die lag.”
Fred se spotprente is in drie boeke saamgevat: Heilige koeie en ander onheilighede, Van Zuma tot Zille en Laat daar lig wees, wat spruit uit beurtkrag. Hy is verlede jaar bekroon met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Markus Viljoen-medalje vir joernalistieke prestasie vir langdurige, hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek.
Hy word oorleef deur sy vrou, Annemarie, seun, Fritz, wat op pad is uit Australië, twee dogters, Annemarie en Marlien, asook twee kleinkinders, Ben en Lucy.