
Die perdewêreld is behoorlik aan die gons nadat twee Suid-Afrikaanse Friesperd-entoesiaste vir die eerste keer bewys het dat hierdie perderas op internasionale vlak 'n kleim in die dresseersport kan afsteek.
Dit was op die pas afgelope “World Equestrian Games” wat in Normandië in Frankryk gehou is.
Hier het Cheré Burger van die Adelpragstoet, Potchefstroom, op die rug van die stamboekhings , Anders 451, die verbeelding aangegryp. “Ofskoon die Friesperd eintlik tradisioneel ’n trekperd is, het Cheré en Anders wel uiteindelik die grootste toejuiging by die duisende toeskouers ontlok – selfs meer as wat die algehele wenperde ontvang het!”, sê Niekie Pienaar, die eienaar van die Adelpragstoet.
Nie net was dit die eerste keer ooit dat ‘n Friesperd vir die Spele gekwalifiseer het nie, maar dit was ook 'n deurbraak vir Suid-Afrika – die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaanse span aan hierdie kompetisie kon deelneem.
“Aangesien ‘n Friesperd net tot op ‘n sekere vlak met sukses teen perde van die erkende dresseerperderasse kan meeding, was dit ons doel om vir hierdie mees gesogte byeenkoms te kon kwalifiseer en hiermee het ons die perdewêreld verstom,” sê Pienaar wat op die plaas Kruitfontein boer.
Vereistes om te kwalifiseer is uiters streng. Om dit te vermag, moes Cheré vroeër vanjaar aan kompetisies in Oostenryk, die Tsjeggiese Republiek, Frankryk Engeland, Pole, Nederland, Noorweë, Duitsland en Denemarke deelneem.
Byskrif: Cheré Burger het vir Adelprag Arjen, op die Hoefslag-fees vertoon. Foto: Hennie Basson