Boere en plaaswerkers se gemoedere loop hoog langs die Lesotho-grens omdat hulle gereeld onder misdadigers deurloop, sê Vrystaat Landbou (VL).
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van die organisasie se veiligheidsheidskomitee, sê: “Van die ouens is al so keelvol, en as hulle genoeg gehad het, is ’n mens regtig bang hulle neem die reg in eie hande.”
In die jongste voorval is ’n plaasbestuurder van die distrik Ladybrand in ’n plaasaanval doodgeskiet. Luidens ’n berig in Volksblad (3 November 2011) is die 36-jarige mnr. Sean Schutte doodgeskiet en sy 33-jarige broer, Louis, gewond toe hulle aanvallers, wat vermoedelik van Lesotho is, agterna gesit het. Die broers is plaasbestuurders op die Alpha-landgoed.
Breytenbach sê aanvallers het glo by ’n huis op die landgoed ingebreek en die huishulp het alarm gemaak. Die aanvallers het op die vlug geslaan, met die Schutte-broers wat hulle agternagesit het. Met die groep se aankoms by die grens het hulle op die broers geskiet.
Dieselfde groep
Breytenbach sê die groep wat dié aanval uitgevoer het, is vermoedelik ook verantwoordelik vir verskeie ander aanvalle wat die afgelope paar maande langs die grens voorgekom het.
Die adjunk provinsiale polisiekommissaris het Woensdag (2 November 2011) op ’n vergadering aan Breytenbach gesê hulle vermoed ook dat dit dieselfde groep is wat by die aanvalle betrokke is.
“Die modus operandi is in byna al die voorvalle dieselfde. Ná die aanvalle is daar spoorsnyers wat na die verdagtes soek, en die voetspore lyk glo ook dieselfde,” vertel Breytenbach.
Ná verskeie voorvalle vroeër die jaar in die distrikte Ficksburg en Fouriesburg is operasies uitgevoer om die aanvallers te probeer voorlê. Breytenbach sê weens dié stap word vermoed dat die groep besluit het om in ’n suidelike rigting teen die grens af te beweeg.
Wees versigtig
Breytenbach waarsku die landbougemeenskappe aan die grens om baie versigtig te wees en nie dié groep te konfronteer nie, want hulle is gewapen.
Wat samewerking en ondersteuning van die Lesotho-regering betref, sê Breytenbach hulle is baie ongemaklik daaroor dat “dié regering oënskynlik nie iets wil doen en daadwerklik betrokke wil raak om die aanvalle stop te sit nie.”
“Ons sien dieselfde met die grensheining tussen die twee lande. Met ’n internasionale heining is albei lande verantwoordelik vir die oprigting en instandhouding van ’n grensheining, maar dié regering dra niks by nie,” vertel Breytenbach.
Bron: Volksblad
3 November 2011