
Terwyl die vleisbedryf dit as ’n oorwinning beskou dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sterk standpunt oor die etikettering van vleisalternatiewe geneem het, meen dié bedryf dat die wetgewing nie op hom van toepassing is nie.
Luidens ’n verklaring wat die departement verlede week uitgereik het, mag vleisalternatiewe produkte ingevolge regulasies wat in Oktober 2019 afgekondig is, nie produkname gebruik wat vir verwerkte vleisprodukte voorgeskryf en gereserveer word nie.
Fry Family Foods sê egter dat daar spesifiek in afdeling 2.2.c van regulasie 1283 aangedui word dat dit nie van toepassing is nie op vleisalternatiewe produkte of nie-vleisgebaseerde produkte wat oor die algemeen dieselfde voorkoms, aanbieding en bedoelde gebruik as verwerkte vleisprodukte (soos vegan of vegetariese tipe verwerkte produkte) het.
Luidens ’n mediaverklaring deur Fry’s produseer dié maatskappy al meer as 30 jaar lank plantgebaseerde proteïenprodukte by sy fabriek in Durban. Dit word as ’n baanbreker in dié produkkategorie beskou. “Ons het in ’n stadium gemeen dat ons benamingsgebruike vir ons verbruikers verwarrend is. Ons produkname help ons verbruikers egter om te verstaan hoe hulle ons produkte moet gebruik.
“Ons voel sterk daaroor dat ons nie produkname soos ‘burger’, ‘wors’, ‘nugget’ of ‘maalvleis’ kan gebruik nie, want dit sal baie verwarring vir ons verbruikers skep. Ons verbruikers waardeer duidelike kommunikasie.
“Dit sal ook ’n massiewe impak op ons besigheid hê om produkte te herroep, heretiketteer en herverpak. Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering eerder die groei van plaaslike ondernemings behoort te steun as om dit vir hulle moeiliker te maak om besigheid te doen.”
Veebedryf en klimaatsverandering
Me. Tammy Fry, medestigter van Fry’s, sê hulle het baie data wat die veebedryf met klimaatsverandering verbind. “Plantgebaseerde voedsel speel ’n belangrike rol om voedselstelsels meer volhoubaar maak. Om ’n regulasie soos dié toe te pas, ondermyn nie net die vervaardigers van vleisalternatiewe se belangrike werk om klimaatsverandering te bestry nie, dit maak ook nie sin ten opsigte van hoe ander regerings en voedselreguleerders reg oor die wêreld op die data reageer nie.
“Ons is al geruime tyd hiermee besig. Ek betwyfel dit glad nie dat plantgebaseerde burgers, maalvleis en nuggets, om maar ’n paar produkte te noem, belanghebbendes in die vleisbedryf bekommer nie en nou probeer hulle hul belange deur regulatoriese uitsluiting beskerm.”
‘Publiek word mislei’
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, sê die benaming van vleisalternatiewe produkte mislei die publiek. “Ten spyte van die luidkeelse besware van anti-vee-aktiviste en -maatskappye, wat op ’n onregmatige wyse wins maak deur voor te gee dat hulle diereprodukte doeltreffend vervang, is dit van oorlewingsbelang vir veeboere dat die geloofwaardigheid van hul produkte by verbruikers beskerm word.”
Hy sê anti-vee-aktiviste mislei die verbruiker nie net met etikette wat voorgee dat produkte vleis, suiwel of eier te bevat nie, maar ook met pseudo-wetenskap wat berus op valse aansprake dat diereproteïen nadelige implikasies vir gesondheid, die klimaat, bio-diversiteit of dierewelstand het.
“By die Verenigde Nasies se voedselstelselberaad van Augustus 2021 het die wêreld se topwetenskaplikes bewys dat daar geen nadelige gesondheidsimplikasies as gevolg van diereproteïen in die menslike dieet is nie. Inteendeel, sekere noodsaaklike voedingstowwe soos vitamien B12 kom in diereprodukte voor.
“Die anti-vee-aktiviste is ook oneerlik oor die klimaatspoor van vleis- en suiwelproduksie. Die vrystelling van metaangas deur herkouers is deel van ’n kort siklus waar afgevrete weidings meer koolstof neerlê as dié waarin die metaangas in die atmosfeer afgebreek word. Dit kan nie met die vrystelling van koolstof uit fossielbrandstof in die energie- en vervoersektor vergelyk word nie.”
Hy sê die vegetariese beweging openbaar ook nie die koolstofspoor en impak op biodiversiteit van miljoene meer hektare bone, waaruit plantgebaseerde alternatiewe vir diereprodukte vervaardig moet word nie.
“Die enigste belanghebbende in die voedselstelsel wat voordeel uit die beweging vir plantgebaseerde proteïen trek, is groot verwerkingsmaatskappye wat mag in die waardeketting buite die plaashek sentraliseer, boere tot kontrakwerkers reduseer en groot winste maak.
“As ’n kampvegter vir die belange van kleiner en mediumgrootte familieboere sal Saai onverpoos die valsheid van die anti-vee-aktiviste aan die kaak stel en beleid beïnvloed om aan die veeboer ’n regmatige plek in die voedselstelsel te verseker.”
* Landbou.com het navraag by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gedoen oor die vrystelling van vleisalternatiewe ingevolge regulasie 1283 en wag steeds vir kommentaar.