
Die span van die Gamtoos-besproeiingsraad in die Oos-Kaap is hard aan die werk om waterbesparing in die opvangsgebiede te verbeter met die herstel van vleilande en die uitroei van indringerplante.
Me. Rienette Colesky, bestuurder van die raad, sê die span is sedert die vroeë 2000’s betrokke by verskeie projekte in die Oos-Kaap namens die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, en voorheen namens die departement van waterwese.
Die span takel onder meer die uitroei van uitheemse plante in die opvangsgebied van die Kromme- en Kougarivier. Dit is tot voordeel van drie damme wat water aan die Nelson Mandelametro verskaf – onder meer die Churchill- en Mpofodam – en die Kouga-opgangsgebied wat water aan die Kougadam lewer.
Vleilandrehabilitasie in die Diep- en Krommerivier is ook aangepak.
Volgens Colesky word bestaande vleilande tot hul natuurlike toestand gerehabiliteer. Sy verduidelik dat vleilande weens verskeie redes, wat boerderypraktyke in die omgewing insluit, weggevreet word.
“Die vleiland verklein en baie van die voordele wat ’n vleiland aan die omgewing en gebruikers van water of grond bied, gaan verlore.”
Die grootste voordeel van vleilande is dat hulle dien as spons vir water, dus as ’n tipe opgaardam. Dit is ook ’n baie doeltreffende filter wat die watergehalte verbeter namate water deur die vleiland beweeg.
“Vleilande is ’n baie belangrike deel van ons ekostelsel. Dit is belangrik om om te sien na die gesondheid van vleilande,” sê Colesky.
“Ongelukkig is die grond van die vleilande ook baie vrugbaar en weens die mededinging om bewerkbare grond bly vleilande dikwels in die slag.”
Herstel
Colesky sê daar is verskeie maniere waardeur vleilande gerehabiliteer word. Sagte opsies sluit terreinuitleg in waar plante gevestig of hellings aangebring word met geoselle (bit.ly/3CNXLrw) en korfskanse.
Korfskanse word gebruik waar daar nie vastigheid in ’n rivier gevind kan word nie. Vleilande bestaan uit veen wat meters diep kan wees. Korfskanse word gebou deur ’n draadmandjie vol klippe te pak. Mandjies word op verskeie maniere gestruktureer om die optimale uitkoms te gee om die vleiland te ondersteun.
Vir harde opsies word sementwerk gedoen, met korfskanse wat ook daar ingespan kan word.
Mnr. Edwill Moore, die gebiedbestuurder van onder meer die vleilande in die Krommerivier, sê daar is sedert 2000 op elf plekke in die rivier gewerk.
“By al elf plekke is groot strukture gebou. In die meeste gevalle is die strukture beplan en voltooi oor ’n periode van twee tot drie jaar.”
Sy span het in 2019 begin om op ses plekke in die opvangsgebied van die Kougadam te werk, waar hulle hoofsaaklik indringers uitgeroei en natuurlike plante hervestig het.
Danksy die werk is daar tans 325 mense in diens van 21 opkomende kontrakteurs. Die spanne vir bouwerk en ontbossing het ook opleiding ontvang in verskeie areas.
Die span het in die huidige boekjaar grondwerk van 523 m3 met grondstrukture van 87 m3, betonstrukture van 180 m3, korfskansstrukture van 132 m3, geoselle van 18 m3 en slikheinings van 370 m. Daarby is 656 m2 se vleilandplante hervestig, 88 ha se indringerplante uitgeroei en op 1 003 ha opvolgbespuiting gedoen om die hergroei van indringerplante te voorkom.