Die ontginning van skaliegas in die Karoo gaan baie moeilik en duur wees. Kommersiële produksie sal eers oor jare kan gebeur, sê Sasol.
Luidens ’n berig op Sake24.com verwag mnr. Ebbie Haan, hoof van die Sasol Petroleum International, dat kommersiële produksie eers oor 20 jaar sal kan gebeur.
Volgens Haan is die skalierots in die Karoo nie die beste as ’n mens dit met die gehalte van dié van die res van die wêreld vergelyk nie. Hy sê in Noord-Amerika kos dit sowat $5 miljoen om ’n skaliegasboorgat te sink, terwyl dit in Suid-Afrika tot $30 miljoen kan kos, met toerusting wat daarvoor ingevoer sal moet word.
Kortsigtig
Haan sê die ekonomiese en bedryfslewensvatbaarheid van skaliegasontginning lê ver in die toekoms. Hy meen dit is kortsigtig van omgewingsgroepe om ’n verbod op prospektering van dié gas te vra.
“Sê nou daar is 50 triljoen kubieke voet (1 410 miljard m³) gas in die middel van Suid-Afrika? Jy sal op een slag die hele ekonomie volhoubaar van steenkool na gas kan verander.”
Haan haal die Amerikaanse energie-inligtingsadministrasie aan, wat bepaal het dat Suid-Afrika 483 triljoen kubieke voet (13 677 miljard m³) skaliegas bevat – op vier na die meeste op aarde. China, Amerika, Argentinië en Mexiko het meer as Suid-Afrika.
Dié maatskappy het nog nie besluit of hy om skaliegasprospekteringsregte gaan aansoek doen nie, maar beoog wel om na steenkoolmetaangas in Botswana te soek. Verder bestudeer dit die potensiaal van aardgasreserwes aan die kus van KwaZulu-Natal.
Nieu-Seeland
Intussen het verskeie burgerlike organisasies in Nieu-Seeland die afgelope week gevra dat ‘n moratorium op hidroliese breking vir gas- en olieprosprektering en mynaktiwiteite in dié land geplaas moet word.
Luidens ’n berig op Suite101.com is Woensdag 16 November 2011 as die nasionale “Dag vir aksie teen hidroliese breking” gevier. Verskeie omgewings- en politieke groepe het hul ondersteuning aan ’n program teen hidroliese breking toegesê.
Die partye het verder ook onderneem om navorsing oor dié mynmetode te laat doen.
Ander lande, buiten Suid-Afrika, wat al ’n moratorium op hidroliese breking ingestel het, sluit Frankryk, Kanada en Australië in.
Bronne: Sake24.com en Suite101
21 November 2011