
Gauteng sal in September die gasheer wees vir die eerste internasionale konferensie oor landbou-biotegnologie in Afrika wees.
Me. Nandi Mayathula-Khoza, Gauteng se LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, sê dit is ’n groot voorreg om dié konferensie in Sandton aan te bied.
Tot dusver het 220 afgevaardigdes vir die konferensie geregistreer, en ’n groot aantal wetenskaplikes sal ook teenwoordig wees. Kenners van Amerika, Kanada, Duitsland, Australië, Kenia, Nigerië, Brittanje, die Kaaimanseilande en Suid-Afrika sal teenwoordig wees.
Plaaslike wetenskaplikes van die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Witwatersrand, die WNNR en die Universiteit van KwaZulu-Natal sal aan die konferensie deelneem.
Temas
Volgens Mayathula-Khoza gaan belangrike temas soos bio-ekonomie, bio-gebaseerde bedryfsprodukte, bio-boerdery en ’n groen ekonomie op die konferensie bespreek word. Sy sê voedselsekerheid en volhoubare landboupraktyke vir die toekoms sal ook onder die loep wees.
Die eerste konferensie van dié aard is in 1996 in Kanada gehou. Dit het intussen ’n belangrike gebeurtenis op landboukenners se kalenders geword.
Prof. Jennifer Thomson, van die Universiteit van Kaapstad se departement van molekulêre en selbiologie, sal die voorsitter van die konferensie wees.
Die konferensie word van 6 tot 9 September by die Sandton Convention Center in Johannesburg gehou.
30 Augustus 2011