Die staat het geen rekord van hoeveel grond tans deur swart kommersiële boere besit word nie, want ras word nie deur die Aktekantoor aangeteken nie.
Dié bekentenis is deur mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, in die Parlement gemaak.
Luidens ’n berig in Beeld het Shabane dit die afgelope week aan die betrokke parlementêre portefeuljekomitee erken. Die gebrekkige statistiek is ’n gevolg van die nie-rassige vertrekpunt van die Grondwet.
Shabane het deurgeloop onder kritiek van mnr. Athol Trollip, verteenwoordiger van die Demokratiese Alliansie (DA). Trollip het Shabane gekap oor die departement se gereelde bewering dat bitter min grond in die hande van swart boere is.
Volgens Shabane kan hulle slegs bepaal hoeveel grond in swart besit is met behulp van die aantekeninge oor grond wat deur middel van grondhervorming aan gemeenskappe gegee is.
Opnames
Intussen gaan grondopnames deur ander instansies voort. Mnr. Dawie Maree, senior ekonoom vir Agri SA, sê hul opname vorm deel van die HUB-forum (Hoof uitvoerende bestuursforum) se opname.
Hy sê sowat 40% van Kwanalu se opname oor KwaZulu-Natal se grondbesit is afgehandel. Ander provinsies gaan met die proses voort. Die opname is gegrond op data en statistiek wat van boereverenigings verkry word. “Boereverenigings is die beginpunt, omdat dit vir hulle maklik is om statistiek in hul omgewings te verifiëer.”
Bron: Beeld
25 Mei 2012