Die departement van water en sanitasie se groendruppelverslag toon dat daar veral by kleiner, landelike munisipaliteite groot gebreke is – juis die owerhede wat die meeste boere bedien. Luidens die verslag het die meeste landelike munisipaliteite gesukkel om meer as 50% te behaal.
Slegs 5% van die stelsels in die Vrystaat en Limpopo het dié drempel behaal, vergeleke met 75% in Gauteng. Twee kleiner munisipaliteite, Witzenberg (Ceres) en Bitou (Plettenbergbaai), staan egter kop en skouers bo ander uit en het saam met nege ander groter owerhede groendruppelstatus verkry deur 90% of meer in die groendruppeloudits te behaal.
Dié altesame 11 munisipaliteite bedryf 23 van die 850 munisipale afvalwaterstelsels wat geoudit is. Mnr. Dewald van Staden, voorsitter van die Waterinstituut van Suider-Afrika (Wisa) se afdeling vir proseskontroleurs, sê Witzenberg en Bitou se prestasies “is regtig opwindend, want dit wys dit kan gedoen word.