Die goedkeuring van ’n bio-energiebedryf is die sleutel tot hoër landbouproduksie en werkskepping in Suid-Afrika. Die Regering bring egter nie sykantomdit haalbaar te maak nie.
Mnr. Andrew Makenete, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Bio-energievereniging (Saba), het op ’n internasionale konferensie oor landbou-biotegnologie in Sandton gesê dit is frustrerend om oor die potensiaal van ’n bio-energiebedryf te praat terwyl die Regering versuim om ’n gunstige omgewing daarvoor te skep.
“Dit bied die beste oplossing vir die land se ekonomiese en maatskaplike probleme, maar die Regering bly sy voete sleep.”
Mielies of sorghum
Hy sê mielies of sorghum vir sewe etanolaanlegte (teen 375 000 ton per aanleg) kan maklik op ’n ekstra 750 000 hektaar geplant word om vir ’n 10%-inmenging in die brandstofpoel te sorg.
Daardeur kan 75 000 regstreekse en 20 000 onregstreekse werkgeleenthede geskep word. Suid-Afrika kan so tot R14 miljard aan buitelandse besteding op brandstof bespaar.
Nog 750 000 hektaar vir oliesade kan genoeg biodiesel voorsien om by brandstof in te meng en die invoer van 600 000 ton oliekoek beperk. Daarby is daar die vermoë om 2 000 MW hernubare elektrisiteit uit biomassa op te wek. In die suikerrietbedryf kan daar in ’n kort tydjie 500MW beskikbaar gestel word.
3 Oktober 2011