
Terwyl die uitheemse herfs-kommandowurm, wat gewasse soos mielies vernietig en nou vir die eerste keer in Suid-Afrika voorkom, al hoe wyer versprei het, is nuwe plaagdoders om dit te bestry, goedgekeur.
Dr. Gerhard Verdoorn, plaagkenner, sê die wurms het die afgelope tyd na gebiede soos die Loskopvallei, die omgewing tussen Pretoria-Noord en Cullinan, Witbank, Ogies en Carolina versprei. Dit is ook by Dwaalboom by sorghum en sojabone aangetref en tussen Thabazimbi en die Botswana-grens by soetrissie- en spinasie-aanplantings.
Hy sê gelukkig is nuwe middels as plaagdoders in noodregistrasies die afgelope week goedgekeur. (Sien lys hieronder.)
Mnr. Jan-Hendrik Venter, wat by die Departement van Landbou met die kommandowurm gemoeid is, sê dit kom blykbaar ook al voor in gebiede in Limpopo soos Mokopane, Settlers, Vivo, noord van die Soutpansberg by Musina, Levubu en Letsitele. In Gauteng is dit noord van Pretoria al opgemerk.
NB: Nuwe registrasies moet by CropLife aangemeld word.
Kontak dr. Gerhard Verdoorn: nesher@tiscali.co.za