
Om die massiewe potensiaal van Afrika se landbou behoorlik te ontgin, sal ’n gesamentlike poging van alle belanghebbendes verg, meen mnr. Christiaan Schmidt, Duitse minister van voedsel en landbou.
Hy was een van verskeie sprekers in Berlyn op ’n Afrika-landbouberaad van Agco, die Amerikaanse landbou-reus wat onder meer Massey Ferguson besit. Hy glo Afrika bied die oplossing vir die wêreld se groeiende vraag na voedsel. “Behalwe vir minerale, is die landbou Afrika se grootste bron van inkomste, en twee derdes van die kontinent se bevolking is daarby betrokke,” het Scmidt gesê.
“Landbou is egter ’n besigheid en nie ’n stokperdjie nie en die res van die wêreld moet ook met erns en met verantwoordelike beleggings in Afrika betrokke raak. Die kontinent is nie net ’n mark vir ons en ’n plek waar ons minerale kan kry nie. Welslae in Afrika is belangrik vir ons eie stabiliteit en veiligheid.”
Schmidt sê vir die landbou in Afrika om suksesvol te wees, moet boere gehelp word om winsgewend te kan boer en die gaping tussen groot- en kleinskaalse boere moet vernou word. “Mens kan nie weghardloop van hongersnood deur jou voete te gebruik nie. Jy moet jou hande daarvoor gebruik.”
Dit was vanjaar die vierde jaar wat AGCO, saam met ander internasionale ondernemings soos Bayer en Rabobank, ’n Afrika-beraad in die Duitse hoofstad, Berlyn, aangebied het om saam te val met die jaarlikse reuse verbruikers- en landbouskou, die Internasionale Groen Week.
Pres Joaquim Chissano, oud-president van Mosambiek, het as gasspreker gewaarsku dat daar geen vrede binne ’n honger maag kan wees nie. Hy het beklemtoon dat die belangrike rol van die private sektor erken moet word. “Vennootskappe met die private sektor is die lewensbloed van die kontinent.”
Hy glo ook dat ’n boerdery as ’n sake-onderneming bedryf moet word. “Om net op klein skaal te produseer is nie goed genoeg nie. Meer as 80% van Afrika se mense doen dit en bly arm. Dit is van die grootste belang om waarde tot dít wat jy produseer te kan toevoeg en jou besigheid uit te brei.”
Me. Chantal Mbonga, ’n adviseur vir die eerste minister in die Demokratiese Republiek van die Kongo, het gewaarsku dat regerings nie moet probeer boer nie. Hulle klem moet wees op ’n gunstige beleidsomgewing vir landbou en die vestiging van vennootskappe.