
Boere se vermoë om onsekerhede, prysskommelinge en 'n veranderende klimaat die hoof te bied, moet verder ontgin word om volhoubaarheid in boerderybedrywighede te verseker, sê mnr. M.C. Loock, senior bestuurder: agribesigheid by Standard Bank.
“Boere is gewoond daaraan om hulle bedrywighede op 'n daaglikse basis aan te pas volgens verskeie veranderlikes. Hulle het nog altyd handel gedryf in 'n omgewing waar markte en pryse deurlopend verander, telkens sonder enige waarskuwing. En hulle is gewoond daaraan om hulle finansiële bestuur voortdurend aan te pas, of dit nou insetkoste, toerusting of kapitaaluitgawes behels,” sê Loock.
Volgens Loock het die bruto inkomste vir landbouprodukte in 2016 met 12,7% gestyg – ten spyte van die droogte. Produksie het met 2,8% gedaal maar netto inkomste het steeds gestyg. Loock sê die rede hiervoor is dat pryse vir landbouprodukte meer gestyg het as insetkoste.
Veerkragtigheid
Loock skryf die landbou se sukses in moeilike omstandighede toe aan boere se veerkragtigheid. Hy stel voor dat boere dié vermoë moet formaliseer deur volhoubaarheid as die kern van hulle boerderybedrywighede te vestig.
Welvaart sal nie net van herstelvermoë afhang nie maar ook van hoe goed onsekerhede bestuur word. Dit sluit in die effektiewe bestuur van onbestendigheid, wat van behoorlike beplanning afhang.
“Die basis van goeie beplanning spruit voort uit hoe goed jy jou kostes verstaan. As jy weet hoeveel jy moet spandeer om jou produk by die mark te kry, sal jy ook weet watter prys kan jy aanvaar, al dan nie. Dit sal jou besluite verder beïnvloed,” sê Loock.
Hou koste laag
Behoorlike beplanning sal jou help om jou koste vooruit vas te maak of te verlaag, wanneer jy moet. Loock stel voor dat boere hulle insette aan die einde, eerder as aan die begin, van die seisoen aankoop. Sodoende word toegang tot die laagste moontlike insetpryse bekom.
Die beskerming wat kontrakte en verskansing teen prysskommelinge bied, kan nie onderskat word nie.
“Kontrakte gee jou die gerustheid om voor jy plant te weet jou pryse sal meer wees as jou koste en dus sal jy wins toon. Dit maak dit ook makliker om produksiefinansiering te bekom.
"Insetkoste, soos brandstof en voer, sowel as faktore soos die wisselkoers, kan nie voorspel word nie maar kan verskans word. 'n Goeie verskansingstrategie kan dus winsgewendheid konsolideer.”