
Van Rensburg het in die Nasionale Raad van Provinsies gesê nuwe boere kla dat hulle nie toegang tot finansiering kan kry om te vorder op die plase wat die Regering vir hulle met sy Plas-program aangekoop het nie.
Hy meen as die begunstigdes die plase besit, sal hulle finansiering van die private sektor kan bekom. Dit sal dit ook makliker maak om ondersteuningsprogramme van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, in werking te stel.
“Ons kan hierdie plase teen ’n rentekoers van 1% aan die begunstigdes verkoop met finansiering van die Regering.”
Geleenthede
Met die titelakte in die hand, sal hierdie boere gemotiveer word om hul plase te verbeter en daarin te belê met finansiering van die private sektor.
“Daar is nuwe boere daar buite wat die geleenthede wil gebruik wat die Regering hulle gegee het om onafhanklike, kommersiële produsente te word. Hulle het die vermoë om mense in diens te neem en ’n bydrae tot die ekonomie te lewer.”
Hierop het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, geantwoord dat die verhuringsproses nie reg verstaan word nie. Die minimum lang termyn vir die huurkontrakte is 30 jaar. Nkwinti het aangedui dat die departement ook huurkontrakte van 50 jaar aan begunstigdes gegee het.