Die Sentrum vir Omgewingsregte het die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa) gevra om meer tyd toe te laat om Shell se aansoek om vir aardgas in die Karoo te soek, te bestudeer en ook die Regering versoek om ’n strategiese omgewingsassessering te laat doen.
Me. Melissa Fourie, uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Omgewingsregte in Kaapstad, sê Shell se aansoek om die reg om vir aardgas in die Karoo te soek, is een van die grootste aansoeke in die geskiedenis van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumbronne wat betref die gebied wat dit dek en die groot getal mense wat dit raak.
“Ons Grondwet en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid vereis dat almal wat deur so ’n aansoek geraak word, duidelik moet verstaan wat Shell se planne is en voldoende geleentheid moet kry om te sê hoekom so ’n aansoek goedgekeur moet word al dan nie.”
Verder vereis die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur dat mense van minderbevoorregte en kwesbare gemeenskappe spesiale aandag moet kry.
Aangesien die aansoek omvangryk is en beoog om ’n omstrede tegniek te gebruik, en omdat ’n groot deel van die bevolking van die Karoo minderbevoorreg is en in afgeleë gebiede bly, gaan die Sentrum vir Omgewingsregte gedurende Mei en Junie werksessies vir die gemeenskappe in die Karoo hou om hulle oor hul regte in te lig en te help om aan die besluitnemingsproses deel te neem.
Fourie sê aangesien die vereistes vir omgewingsbestuur in die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumbronne so gebrekkig is, gaan hulle ook ’n formele versoek aan die Minister van Water- en Omgewingsake rig om die proses vir ’n strategiese omgewingsassessering in die Karoo aan die gang te sit.
“Dis besonder belangrik omdat daar ten minste twee ander aansoeke vir aardgas-eksplorasie in die Karoo hangende is.”
Sy sê indien die aansoek onder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur ingedien kon word, sou ’n omvattende omgewingsimpakstudie ’n vereiste wees, in plaas van hierdie “afgerammelde, stuksgewyse” aansoek wat aan die vereistes van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumbronne voldoen.
Lees die Sentrum vir Omgewingsregte se brief aan Pasa hier.
6 April 2011