
Die kantoor van die ouditeur-generaal het in ’n voorlegging aan die Parlement se portefeuljekomitee van landelike ontwikkeling en grondhervorming uitgewys dat R4 miljard benodig word om bestaande eise te finaliseer. Dit is bekend dat die departement voor die heropening van die grondeise vanjaar geskat het dat sowat R180 miljard benodig word om die nuwe eise te finaliseer.
Grondeise is in Junie vir ’n tydperk van vyf jaar oopgestel. Die EFF by monde van mnr. Andile Mngxitama, EFF-LP, het gesê daar is bewyse dat daar nie geld is vir die herverdeling van grond nie en daar is ook nie ‘n plan om dié krisis te hanteer nie.
Dit is nadat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, erken het dat daar in die huidige geldjaar slegs geld beskikbaar is vir bestaande eise en geen vir nuwe eise nie. Hy het uitgewys dat in die vierde Parlement almal ingekoop het by die reëling dat bestaande eise prioriteit sal geniet, terwyl die nuwe eise ook terselfdetyd ingedien kan word. Weens die moeilikheidsgraad van sekere bestaande eise was ook besluit om met die heropeningsproses voort te gaan, want dit sou lank neem om daardie eise te finaliseer.
Nkwinti sê die begroting vir restitusie moes herranskik word sodat geld beskikbaar gemaak kon word vir die opening van kantore regoor die land waar grondeise ingedien kan word. Daar sal wel geld in die 2015/’16 geldjaar vir die nuwe eise begroot word, sê hy.
Mngxitama het ’n beroep gedoen dat aanvaar moet word dat daar wel ’n krisis is en daar moet ’n oplossing hiervoor gevind word. Hy het weereens voorgestel dat die grond sonder vergoeding vir grondhervorming onteien moet word. “Restitusiegrond is die ergste. Daar is bevestiging dat dié grond gesteel is. Ons het nie die die geld om vir restitusie te betaal nie, en daar is ’n oplossing, onteien die grond en laat ons na ander kwessies beweeg.”
Hy meen die ANC het nie die politieke dapperheid om die grondkwessie op te los nie. Me. Nomfundo Gobodo, hoof-grondeisekommissaris, sê 87% van die bestaande eise is afgehandel en die res is in verskeie fases van afhandeling.