Studente aan die Potchestroom Landboukollege eis dat die hoof van die kollege moet bedank na die studente glo huis toe gestuur is omdat daar nie meer kos op die kampus is nie.
Luidens ‘n verklaring van AfriForum Jeug is ‘n versoek ook aan die Openbare Beskermer gerig om die kollege te ondersoek.
Volgens die verklaring is die studente gevra om huis toe te gaan omdat daar weens ‘n gebrek aan geld nie meer kos op die kampus is nie.
Me. Estelle Smit, AfriForum Jeug se koördineerder in Noordwes, sê die situasie is kommerwekkend: “Die studente betaal baie geld. Al wat hulle verwag is om basiese dienste en goeie onderrig te ontvang, maar die kollege is nie eers in staat om dít aan hulle te lewer nie.”
Volgens Smit gaan Afrikaanse studente boonop onder diskriminasie gebuk: “Afrikaanse studente kry nie studiemateriaal nie en dan word daar van hulle verwag om eksamen te skryf, ten spyte van die feit dat hulle nie daarvoor kan voorberei nie. Ons beskou dit as diskriminasie en growwe wan-administrasie en daarom is ernstige stappe nodig om die probleem op te los.”
Afriforum Jeug verwag dat die kollegehoof, mnr. Serage Dippepeneneng, moet bedank, aangesien die kollege onder sy leiding glo baie agteruit gegaan het.
8 April 2010