
Luidens die jongste verslag van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wat op 12 September bekend gemaak is, is geen nuwe gevalle van die siekte sedert die vorige verslag van 5 September bevestig nie. Daar is tans 142 bevestigde gevalle van die siekte landwyd.
Alle plase en voerkrale in Noordwes, Gauteng en Mpumalanga waar bek-en-klouseer bevestig is, is steeds onder kwarantyn met streng toegangsbeheer. Dieselfde geld persele in KwaZulu-Natal en Limpopo waar die siekte bevestig is.
Luidens die verslag is altesaam 519 802 diere tot dusver in KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes, die Vrystaat en Gauteng ingeënt. In Noordwes en die Vrystaat is ’n tweede inentingsveldtog van stapel gestuur. ’n Totaal van 4 836 diere is reeds tydens dié veldtog ingeënt.
In Noordwes is daar begin om diere wat positief getoets het, van kant te maak. Tot dusver is 5 176 beeste vir beheerde slag gestuur. Die persele waarvandaan hulle gekom het, bly vir tot 28 dae onder kwarantyn.
Die verslag van 12 September beklemtoon die grense van die drie nuwe siektebeheergebiede vir bek-en-klouseer in Limpopo, KwaZulu-Natal en die Vrystaat. Die vervoerverbod op beeste, skape en bokke in hierdie gebiede bly van krag.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.