Boere is nie paniekbevange oor die situasie wat tans rondom oud-pres. Nelson Mandela se gesondheid bestaan nie, sê die georganiseerde landbou.
Volgens mediaberigte is die land se demokratiese ikoon Woensdag (26 Januarie 2011) in die Millpark-hospitaal in Johannesburg vir roetine-ondersoeke opgeneem.
Verskeie gerugte doen die rondte dat die 92-jarige Madiba ernstig siek is, maar buiten om te sê dat hy opgeneem is, het die Nelson Mandela Foundation nog nie weer ‘n woord oor sy toestand gerep nie.
Rustig
“Nee wat, die ouens is rustig. Ons het nog nie oproepe van paniekbevange boere ontvang wat bang is vir wat kan gebeur sou Mandela sterf nie,” vertel mnr. Andre Botha, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee.
“Sou hy te sterwe kom, verloor Suid-Afrika ‘n groot seun, en gaan ons hartseer wees, maar dinge sal weer soos normaal voortgaan,” aldus Botha.
Mnr. Ben Marais, voorsitter van die TLU SA, sê hulle meen die situasie moet rustig hanteer word.
“Om siek te word en hospitaal toe te gaan, is deel van oud word. Ons moenie die hele situasie op die voorgrond plaas nie, dis vra vir moeilikheid. Niemand moet die harnas ingejaag word met allerhande aannames nie, en ons hoop hy kom nog rustig uit die hospital,” vertel Marais.
27 Januarie 2011