‘n Geenbewerkingstoer na Suid-Amerika, met die fokus op ‘n werktuigskou en kleiner produsente, word gereël.
Die toer word deur Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) gereël. Groot en klein plase en ’n werktuigskou Brasilië en Paraguay sal besoek word. Die toer begin Saterdag 4 Februarie en duur tot Vrydag 17 Februarie.
Dr. Johann Strauss, senior navorser by die Wes-Kaapse departement van landbou se plantproduksie-instituut, sê die ondervinding in die Wes-Kaap is dat geenbewerking nie net aan kommersiële boere voordele bied nie, maar ook in die wisselbouproewe van die departement van landbou. “Talle boere het egter ’n plafon bereik en daar is ’n behoefte om geenbewerking verder te neem om nader aan bewaringsboerdery te beweeg, met die bewaring van alle oesreste.”
Kleiner boere ook besoek
Daar word beoog om nie net kommersiële boere te besoek nie, maar ook produsente wat op kleiner skaal boer. Op die werktuigskou sal moontlikhede bekyk word vir die ombouing van Suid-Afrikaanse werktuie om meer stoppel te kan hanteer.
Mnr. Rolf Derpsch, bewaringslandbou-ghoeroe van Paraguay, gaan die toer meemaak. Derpsch is bekend om sy beklemtoning van die belangrikheid van die behoud van stoppels en ander oesreste ná die oes.
Strauss sê hy hoop dat daar ná die toer ’n taakspan van kundiges en boere saamgestel kan word om geenbewerking vorentoe te neem.
Navrae: Strauss, sel 082 907 3109 of e-pos johannst@elsenburg.com of Strauss.butch@telkomsa.net.
Volledige toerprogram, koste en kontaknommers is in die PDF-dokument hieronder.
22 Desember 2011