
Die Duitse, Nederlandse en Britse hoenderbedrywe baklei hard om moontlike Suid-Afrikaanse teenstortingstariewe op hul hoender te keer.
Die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) sê sy ondersoek om vas te stel of teenstortingstariewe op hoender uit hierdie lande ingestel moet word, het tot ongekende reaksie gelei.
Dit het daartoe bygedra dat die kommissie nie ‘n besluit kon neem voordat sy voorlopige tariewe op 2 Januarie verval het nie.
Mnr. Foster Mohale, kommunikasiebestuurder, sê dit was ‘n ongewone ondersoek weens die groot getal uitvoerders en verenigings van Duitsland, Nederland en Brittanje wat aktief deelgeneem het om hul belange te beskerm.
Suid-Afrikaanse invoerders het ook aktief deelgeneem en tydens die ondersoek het invoerders en buitelandse produsente uitstel gevra. Wat ook tyd in beslag geneem het, was dat die kommissie ‘n hele paar mondelinge verhore vir belanghebbendes moes hou.
Die ondersoek is nou in ‘n finale stadium en die kommissie verwag om voor einde Februarie ‘n besluit te neem. Mohale sê dit is nog binne die riglyne.
Volgens Suid-Afrika se teenstortingsregulasies, wat met die Wêreldhandelsooreenkoms se teenstortingsooreenkoms strook, moet alle ondersoeke binne 18 maande afgehandel word.
Vir dié hoenderondersoek beteken dit voor 25 April vanjaar.
Itac se besluit sal as ‘n aanbeveling na dr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, gestuur word, wat dit sal oorweeg en sou hy besluit tariewe moet ingestel word, en sou hy besluit tariewe moet ingestel word, sal dit deur mnr. Mcebisi Jonas, Adjunkminister van Finansies, in die Staatskoerant afgekondig word.
Volgens Suid-Afrikaanse regulasies sal die tariewe vir vyf jaar vanaf die datum van inwerkingtreding geld.
Geen hoendervleis word intussen uit die betrokke drie lande ingevoer nie nadat voëlgriep in November daar uitgebreek het.