
Lande in die Suidelike Halfrond produseer minder as 3% van die wêreld se olyfolie, ten spyte van die groot vraag na vars olyfolie regdeur die jaar in lonende markte.
Die Suid-Afrikaanse olyfbedryf kan dié markte van olyfolie voorsien wanneer Europese olies al ses of sewe maande oud is.
“Soms klop geleenthede saggies aan jou deur; ons behoort voordeel te trek hieruit,” het mnr. Nick Wilkinson, voorsitter van SA Olive, tydens die aankondiging van vanjaar se SA Olive-toekennings in die Paarl gesê.
Oorsese pryse styg
Volgens hom het internasionale pryse met 30% gestyg in Europa. As Italië nie in ag geneem word nie, is die internasionale prys 60% hoër.
“Dit dui op moontlike tekorte aan olyfolie in 2018, op die rug van die droogte, baie hoë temperature in Europa en groter verbruik van olyfolie.”
Volgens Wilkinson is die invoerpariteit vir Suid-Afrikaanse produsente “noord van R62 per liter”.
“Dit het lanklaas so goed gegaan. Die boodskap is egter om nie olie vir te goedkoop te verkoop nie.”
SA se goeie gehalte
Volgens hom begin internasionale markte “stadig maar seker” besef watter goeie gehalte Suid-Afrikaanse olyfolie bied. Plaaslike produsente het die afgelope jaar hul staal gewys op olyfolie-kompetisies in Amerika, Europa, die Midde-Ooste en Japan.
“Produsente jaag ook uitvoermarkte na en bou die fondasies vir die Suid-Afrikaanse handelsmerk.”
Die plaaslike oes was vanjaar 35% kleiner en die bedryf het slegs 1,5 miljoen liter olyfolie geproduseer. “Ons kan uitsien daarna om dit oor die korttermyn te verdubbel, mits die weer saamspeel. Kwekerye se verkope dui op verhoogde aanplantings regdeur die land.”
Hy het benadruk dat SA Olive moet verseker die plaaslike kompetisies en die CTC-program (commitment to compliance) is van hoë standaard sodat verbruikers plaaslike olyfolie met gemoedsrus en vertroue kan koop.
Bly op agtervoet
Wilkinson het egter gewaarsku Suid-Afrikaanse produsente kan, ondanks die gunstige markomstandighede, nie op hul louere rus nie. Die Europese Unie befonds tans die Aristoil-projek in vyf lande met die doel om Mediterreense olyfolieprodusente se mededingendheid te verbeter deur innoverende produksie- en gehaltebeheertegnieke.
“Die wêreld haal ons in en erken die gesondheidswaarde van uitsoek ekstrasuiwer-olyfolie. Internasionale olyfolie-kopers vra deesdae vir die polifenool-inhoud, en selfs die samestellings van die verskillend polifenole, voor hulle instem tot hoër pryse. Ons het nie eers ’n laboratorium in Suid-Afrika wat dit kan toets nie! Ons is tans nog voor in die resies, maar ons moet maniere vind om daar te bly.”
Meer as 90% van die 87 olyfolies wat onder skoot gekom het vir beoordeling by die SA Olive-toekennings, is met medaljes beloon. Altesaam 19 goue toekennings is oorhandig. De Rustica-olyflandgoed naby De Rust het die drie van die goue toekennings ingepalm. Mardouw-olyflandgoed, tussen Ashton en Swellendam, het twee goues gewen.
Me. Sue Langstaff, ’n sensoriese wetenskaplike uit Kalifornië wat vanjaar die proepaneel vir die SA Olive-toekennings gelei het, sê die groot hoeveelheid medaljes is nie omdat die beoordelaars toegeeflik was nie.