
Boere en ’n kontrakteur van die distrik Bultfontein maak al vir sowat twee jaar lank, ongeveer elke ses maande, die 60 km lange pad tussen dié dorp en Hertzogville op eie stoom reg.
Die herstelwerk behels dat gruis aangery word en vragmotors en werkers verskaf word om die slaggate in die pad op te vul.
Mnr. Koos Oosthuizen, eienaar van Oosjac Bouers & Vervoer in Bultfontein, sê sy vragmotors moet gereeld riviersand en klip van Christiana af op die pad aanry. Hy het besluit om self in te spring en ’n plan te maak nadat hy al soveel bande op die pad verloor het dat hy ’n nuwe vragmotor met dié onkoste kon aankoop.
Volgens Oosthuizen het mnre. Tewie Willemse en Barries Cilliers gruisgate op hul plase, en skenk hulle vir hom gruis om die slaggate mee te help opvul. Oosthuizen verskaf die vragmotors, laaigrawe en arbeid wat nodig is om die werk te doen.
Hulp
Oosthuizen sê hy wil graag alle boere en ander maatskappye wat die pad gebruik se hulp vra om die koste van die projek te help dra. “Tydens die vorige regmaaksessie het ons 2 100 liter diesel gebruik en ’n week se werk het amper R20 000 gekos.”
“Dit kos my ’n klomp geld en ek wil graag al die boere se hulp vra.” Volgens me. Sonnika Oosthuizen, Koos se dogter, wil hy graag met behulp van die boere ’n fonds op die been bring vir die pad se instandhouding.
Oosthuizen sê dit is tans onduidelik wanneer die staat aandag aan die pad sal skenk, veral weens die “haglike” toestand waarin die pad tussen Bultfontein en Bloemfontein tans is.