
Vinniger vordering kan gemaak word as die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling soos beloof en ooreengekom die kommersiële banksektor betrek by die gemengde finansiering wat binnekort begin, meen mnr. Gerrit van Vuuren, prokureur en strategiese adviseur van SA PALS.
Omdat die Land Bank likiditeitsprobleme ervaar, is gemengde finansiering op ys geplaas by die bank. Die departement het daarom kommersiële banke en die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) aangewys om saam met die departement die finansieringskema aan die gang te kry. Didiza het verlede jaar aangedui dat die finansieringsinstrumente teen Maart of April beskikbaar sal wees.
Aansoeke
PALS het vier aansoeke hangend wat hy by die IDC ingedien het toe die gemengde finansieringskema verlede jaar Maart weer bekend gestel is en skakel gereeld met die IDC om op hoogte van die proses te bly. Projekte waarvoor aansoek gedoen is, is die verbouing van bloubessies, brame, steenvrugte, appels, pere en gemengde boerdery.
Van Vuuren sê hulle ondersoek maniere om vir skaapboerdery aansoek te doen. “Jy kan met min geld baie mense help as jy skaapboerdery in die Karoo ondersteun. Elke projek vereis klomp bloed, sweet en trane om reg saam te stel, die voorbereiding reg te doen en dan op die ou end finansiering of ander goedkeuring te kry voor jy (dit) kan toepas. Maak jy ’n fout by die voorbereidings, gaan jy nie ’n volhoubare, suksesvolle boerderybesigheid vestig nie.”
PALS het sentrums in Mpumalanga, die Vrystaat en die Wes-Kaap vanwaar hy die hele land bedien. Van Vuuren glo as kommersiële banke die beloofde kapitaal van die departement kry om ook gemengde finansiering te doen, sal die proses vinniger vorder. Daar sal meer kapasiteit wees om die finansiering te doen, want die IDC is reeds oorlaai.
Die IDC is besig met 25 transaksies met R2 miljard se lenings en R500 miljoen se toelaes wat meer as 1 200 voltydse werksgeleenthede sal skep. Die kommoditeite wat ondersteun word, is hoender, bees, vark, tuinbou, landbouverwerking en bosbou.
Kriteria
Die finansieringsinstrumente bestaan uit ’n 40%-toelae van die staat en ’n 60%-lening wat sal help om swart boere en landboubesighede in landelike gebiede te kommersialiseer. Die klem is op die ontwikkeling en toepassing van kommersiële landbouprojekte van swart boere vir die uitvoer van onder meer sitrus, avokado’s, tafeldruiwe, bloubessies en neute. Die hoender-, bees- en varkwaardeketting is ook in die kollig.
Een van die kriteria vir hierdie finansiering is dat die belegger ten minste 60% swart eienaarskap het. Die IDC het reeds finansiering beskikbaar begin stel nadat die gemengde finansieringskema verlede Maart opnuut beskikbaar gestel is. Die skema staan by die IDC bekend as die landbounywerheidsfonds. Die departement het reeds R200 miljoen na die IDC oorgeplaas waarmee hy begin het om finansiering te verleen. Die departement sal R1 miljard oor vyf jaar aan die korporasie bewillig en die IDC dra self R4 miljard by.