
Ná ’n oorskot van R6 miljard vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se loonbelasting aangekondig is, het die vakbond Solidariteit gevra dat dié belasting verlaag word.
Mnr. Paul Joubert, ekonomiese navorser by die vakbond, sê dié bedrag kan sowat 130 000 intreevlak-poste in die land finansier.
Joubert sê die bedrag sal dié aantal werksgeleenthede teen ’n maandelikse loon van R4 000 kan finansier: “Die WVF se jaarlikse heffings het volgens berigte die afgelope boekjaar tot R12,4 miljard gestyg, maar minder as die helfte van hierdie bedrag, sowat R5,6 miljard, is as werkloosheidsvoordele uitbetaal. As verpligte bydraes sowel as die maksimum maandelikse heffing gehalveer word, sal dit jaarliks R6,2 miljard beskikbaar stel.”
Twyfel
Mnr. Anton Rabe, voorsitter van Agri SA se Arbeidskomitee, sê so ’n verlaging kan die koste om sake te doen verlaag; “of dit groter indiensname (gegewe al die ander arbeidskwessies en-wetgewing) sal weerspieël, betwyfel ek egter sterk.”
Hy sê hy sou eerder wou sien dat die heffing dieselfde bly, maar dat ’n oorskot op ’n konstruktiewe wyse gebruik word vir byvoorbeeld werkskepping of opleiding.
Verhoog
Joubert sê verder as die WVF die loonbelasting verlaag, kan dit steeds die reg voorbehou om heffings weer te verhoog as die finansiële volhoubaarheid van die fonds bedreig word. Hy sê ’n voorstel om die voordeletydperk as gevolg van die oorskot te verleng, asook om uitbetalings te verhoog, sal mense aanspoor om langer werkloos te bly.
Rabe meen dat as ’n verlaging goedgekeur word, dit ’n eenmalige besluit moet wees en die heffing nie van tyd tot tyd aangepas moet word nie. “Hierdie heffing is ’n versekering vir werkers en gegewe dat die land in ’n resessie is, is dit nie noodwendig ’n goeie ding dat dit verminder word nie.”