Terwyl Graan SA reken dat die mielie-oes dalk groter kan wees as wat verwag is, sê sommige boere hul oeste lyk slegter as wat hulle verwag het.
Mnr. Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, het verlede week op die Nampo-Oesdag by Bothaville, gesê hulle het verskillende menings uit boeregeledere ontvang oor hoe sake met oeste staan.
Sommige boere sê hul oeste lyk sleg, terwyl ander sê hul oeste gaan moontlik groter wees as wat hulle verwag het. Dié groter oeste sal moontlik nie die rekordoeste wat baie boere verlede jaar behaal het, ewenaar nie.
“Ons het nie net slegte nuus gehoor nie, maar ’n lekker kwota goeie nuus. Ek dink ons het nou ’n baie meer gebalanseerde uitkyk op die oes en die droogte.”
Baie belowend
Mnr. Tony da Costa, ’n boer van die Nigel-omgewing, sê hul oes lyk baie belowend. “Ons het nog nie ’n besliste aanduiding van hoe groot die oes sal wees nie, maar dit lyk of dit moontlik beter as vorige jare kan wees.”
Intussen sê mnr. Louw Steytler, voorsitter van Graan SA, hy meen die skatting van dié seisoen se mielie-oes is te optimisties. “In sekere dele lyk die boere se oeste baie slegter as wat hulle verwag het. Dit het regtig maar afgehang van die reën wat plek-plek geval het.”
Steytler sê dit is in ’n mate kommerwekkend om na die mielies op die lande te kyk as ’n mens deur landelike gebiede ry.
21 Mei 2012