
Calvinia se boere en gemeenskap juig oor die reën wat die afgelope naweek in dié gebied uitgesak het.
Die Kareedam, wat die omgewing van water voorsien, het vroeër vanjaar opgedroog en noodhulpprojekte is van stapel gestuur om water en voer te verskaf waar nodig. Die plaaslike munisipaliteit het sewe boorgate gebruik om dorpenaars van water te voorsien, maar weens lae watervlakke is dié boorgate nie meer ’n betroubare bron van drinkwater nie.
Mnr. Burre Burger, ’n sakeman van Vredendal, lei reeds ’n geruime tyd pogings om hulp vir Calvinia te organiseer en het ook ’n bidgeleentheid vir inwoners gereël wat desperaat is vir water. Te midde van dié waternood was die 38 mm reën wat die naweek geval het, baie welkom. Die reën het ook gepaard gegaan met ’n bui hael. Ongelukkig het meeste van die reën in die dorp geval en nie in die dam se opvangsgebied nie.
Intussen het ander dele van die Noord-Kaap ook reën gekry, met onder meer 50 mm in Brandvlei, 38 mm op Upington en 36 mm in Kimberley.