
Meer as genoeg mielies is dié seisoen geplant: Mielieboere kan nie kan bekostig om vir 'n surplus te plant nie, sê mnr. Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.
Die eerste oppervlakteskatting vir somergewasse is pas deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekend gemaak. Die 2,55 miljoen hektaar mielies is 31% meer as wat verlede seisoen aangeplant was.
Brink sê dit is 'n baie goeie teken dat bykans 54% meer wit mielies aangeplant is en net 6% meer geel mielies omdat nie baie wit mielies in die wêreld geproduseer word nie. Amerika produseer byvoorbeeld feitlik net geel mielies wat vir veevoer gebruik word.
Meer as genoeg mielies
Hy sê die totale aanplantings hierdie seisoen is meer as genoeg mielies wat geplant is. Mielieboere weet dat hulle dit nie kan bekostig om vir 'n surplus te plant nie. Die oes kan eerder 'n bietjie te klein wees as te groot want dit beteken 'n verskil tussen invoer- en baie laer uitvoerpariteitspryse. Dit is nie boere se verantwoordelikheid om genoeg mielies vir die land te produseer nie – dit is die Regering se verantwoordelikheid om toe te sien dat die mieliebedryf genoeg mielies winsgewend kan produseer.
“Geen boer in die wêreld kan voedsel produseer teen pryse wat arm mense kan bekostig nie en voedselsekuriteit kan sleg volhoubaar wees as die produksie van voedsel winsgewend is,” sê Brink.
Die ANC-regering doen egter alles in sy vermoë om al hoe meer klippe in die bedryf se pad te rol om te verhoed dat die boere winsgewend kan produseer, omdat hulle eerder sal wil sien dat meer kommersiële mielieboere die bedryf verlaat sodat hulle minder vir grond hoef te betaal om te verdeel om aan bewind te probeer bly.
Slim manne in lesingkamers
Die "geleerde manne" in groot lesingkamers moet daarom ook daarvan vergeet dat boere oorskotte moet produseer om goedkoop voedsel vir die land te voorsien. Mielieboere kan maar nog 'n paar honderd duisend hektaar aanplantings afskaal om surplusse te voorkom.
“Die plaaslike verbruikers van mielies as ‘n stapelvoedsel sal ernstig daarvan kennis moet neem dat die ANC-regering se belaglike grondhervormingsbeleid baie vinnig sal veroorsaak dat die land binnekort ‘n permanente invoerland van mielies sal word teen baie hoër pryse” sê Brink.