’n Groep akademici en wetenskaplikes in die openbare en private sektor pleit in ’n brief aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, dat die besluit hersien en omgekeer word.
Hulle vra dat ’n produkgebaseerde benadering ontwikkel moet word om nuwe teeltegnieke in Suid-Afrika te reguleer. Daar word gevrees dat verdere ontwikkeling en verfyning van nuwe teeltegnieke onder die huidige regulatoriese raamwerk ingeperk sal word.
Dit is omdat die regulasies vir genoomgeredigeerde organismes ingevolge die Wet op Geneties Gemodifiseerde Organismes (Wet 15 van 1997) ’n onnodige swaar regulatoriese las op die bedryf sal plaas.