
Agri Gauteng en die SA Polisiediens in Gauteng werk nou saam om veediefstal in dié provinsie te bekamp.
Luidens 'n verklaring van Agri Gauteng is die werksessie van die provinsiale veediefstaleenheid van die polisie in Gauteng op 24 en 25 Januarie 2012 by Agri SA se kantoor in Centurion gehou.
Belanghebbendes wat die werksessie bygewoon het, het verskeie eenhede van die polisie ingesluit. Die georganiseerde landbou is verteenwoordig deur Agri Gauteng, die TLU SA (Sentraal) en die Gautengse Rooivleisprodusente-organisasie (GRPO).
Brandmerk is belangrik
Van die onderwerpe wat bespreek is, is wetgewing en veral die nakoming van brandmerk- en tatoeëer-regulasies deur alle boere en ander belanghebbendes.
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die GPRO, het ná die werksessie sy tevredenheid uitgespreek en gesê dat vooruitsigte vir 'n doeltreffender funksionering van die Veediefstalforum in die provinsie nou 'n werklikheid is vanweë die aard, inhoud en detail wat tydens die werksessie hanteer is.
Agri Gauteng het 'n beroep op sy lede gedoen om toe te sien dat hul diere op die voorgeskrewe wyse gemerk word. Benewens die feit dat 'n landswet oortree word en boere strafregtelik vervolg kan word as hul diere nie korrek gemerk is nie, maak sulke laksheid die bekamping van veediefstal en die oplossing van veediefstalsake moeilik.
30 Januarie 2012