Suid-Afrikaanse boere sal met ope arms in Georgië verwelkom word en sal alle moontlike steun van die Georgiese regering ontvang om ondernemings te vestig.
Dít is die belofte van me. Sandra Roelofs Saakashvili, presidentsvrou van Georgië. Roelofs, wat ‘n Hollandse burger was, het haar man, pres. Mikheil Saakashvili as ‘n regsgeleerde in Frankryk ontmoet voordat sy loopbaan as politikus begin het.
Sy het tydens ‘n onthaal vir Suid-Afrikaanse boere op besoek in Georgië gesê die verbintenis is vir haar soos ‘n driehoek wat wag om voltooi te word. “Die een been is my geskiedkundige en taalband met Suid-Afrika. Die ander been is my verbintenis met Georgië as presidentsvrou en die derde been wat voltooi moet word, is Suid-Afrikaners wat belange in Georgië moet vestig.”
Sy het gesê Georgië het alles moontlik gedoen om onnodige rompslomp uit die weg te ruim en dit so maklik moontlik te maak om sake in die land te doen. Die land, wat 80% van sy voedsel invoer, het ‘n groot behoefte aan landbou-ontwikkeling.
Verskillende streke besoek
Die groep boere wat onder leiding van die TLU SA op ‘n verkennende besoek is, het die afgelope naweek twee van die bekendste landboustreke in die land besoek.
Die Kakheti-streek is die tradisionele wynbou-streek waar van die wêreld se eerste wyn geproduseer is. Net 10% van die land se bevolking woon in dié oostelike streek waar een derde van die land se kos geproduseer word.
Die tweede besoek was aan die Kvemo Kartli-streek suid van die hoofstad, Tbilisi, waar, volgens die goewerneur mnr. Davit Kirkitadze, 10 keer meer vrugbare grond beskikbaar is as die huidige vraag.
5 Oktober 2010