Die Regering van Georgië en die TLU SA het ooreengekom om ‘n gesamentlike landbounavoringsplaas op die been te bring.
Luidens ‘n verklaring is dié besluit geneem tydens ‘n feitesending wat die organisasie onlangs aan dié land afgelê het. Die TLU SA sê dat hy aangenaam verras was oor die stand van sake in dié land, en dat Georgië ‘n standvastige kommersiële landbousektor kan vestig.
Volgens die afvaardiging is die ongunstige gevolge van sosialisme in die land opvallend. “Hul regering is baie positief om hul land weer op die pad van groei te kry. Die gunstige tekens daarvan is reg deur die land waargeneem,” sê die organisasie.
Tydens die besoek het die gegering 12 onderhoude met die Suid-Afrikaners gevoer wat daagliks deur die plaaslike media gedek is.
Samewerking
Na afloop van die besoek het die lede van die TLU SA se toergroep elk ‘n bedrag bewillig om namens die organisasie as ‘n bydrae te dien vir die daarstelling van die navorsingsplaas.
Die Georgiese regering het ook die TLU SA versoek om drie landboukundiges op ‘n kontrakbasis beskikbaar te stel om op ‘n advieskomitee te dien, waarvan van hul ministers ook deel sal vorm.
Verskeie elemente moet nog in die proses uitgeklaar word, en sodra dit afgehandel is, sal ‘n volledige verslag uitgereik word.
8 Oktober 2010