
Kriel volg mnr. Fanie Ferreira, waarnemende uitvoerende hoof, op, wat volgens die MPO sal voortgaan om as voorsitter van die MPO se Noordstreek en ’n lid van die MPO-direksie te dien. Ferreira sal ’n gladde oorgang vir Kriel moontlik maak en in die vroeë dae ondersteuning bied waar nodig.
Kriel het luidens ’n verklaring deur die MPO meer as 30 jaar sakeleierskapservaring, waarvan die meeste binne landboukontekste was. Hy bring ’n unieke stel vaardighede, perspektiewe en verhoudings om die MPO die toekoms in te lei.
“Om voort te bou op wat ons reeds bereik het, hoop ons om onder sy leierskap ons strategiese rigting te slyp, ons organisasie te laat groei en ontwikkel, ons vennootskappe te versterk en nuwe verhoudings te bou,” sê mnr. Colin Wellbeloved, MPO-voorsitter.
Kriel was voorheen onder meer hoofbestuurder van handel by OVK Landbou, besturende direkteur van Kriel Tegnologiegroep, uitvoerende hoof van Vrystaat Landbou, en ’n onafhanklike konsultant. Hy het met verskeie nasionale landbou-organisasies saamgewerk.
Hy het die graad BSc in voedselwetenskap, suiwelwetenskap, mikrobiologie en biochemie aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n meestersgraad in sakeleierskap aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf.
Kriel en sy eggenoot, Annette, woon in Bloemfontein en sal vroeg in die nuwe jaar na Pretoria verhuis.
Wellbeloved sê die MPO is baie dankbaar vir die deurslaggewende rol wat Ferreira die afgelope maande gespeel het om die MPO te herstruktureer, en vir die MPO-direksie se eenparige onderskrywing van die aanbeveling om Kriel as uitvoerende hoof aan te stel.