
Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van die LPO, sê die organisasie verstaan die belangrike rol wat MeatCo speel in die Namibiese lewendehawe-waardeketting, veral wat uitvoermarkte en die inkomste van plaaslike boere betref.
Volgens hom is die gerugte dat “wit boere” die ondergang van MeatCo wil sien daarom kwaadwillig en absurd. Dit is bloot ’n poging om die aandag af te trek van die werklike bekommernisse en pogings om kwessies by MeatCo uit die weg te ruim.
Luidens ’n berig wat op 23 Februarie in New Era verskyn het, het wit kommersiële boere glo ’n brief aan owerhede in Ghana oorhandig waarin beweer word dat die vleis wat hulle van Namibië af invoer, nie vir menslike gebruik geskik is nie omdat dit met bek-en-klouseer besmet is.
Pretorius sê die aantyging moet ten sterkste veroordeel word aangesien dit onenigheid in die veebedryf skep, veral onder produsente in die noorde en suide van Namibië. “Die landbousektor moet verenig en nie verdeel word nie, aangesien dit die fondasie van nasiebou en nasionale enigheid is.”
Hy sê die LPO sal die nodige steun aan die Namibiese regering en agentskappe gee om Namibiese vleis te beskerm en bevorder ten einde werksekerheid en ’n volhoubare inkomste vir die hele landbougemeenskap te verseker.
Hy sê die LPO verwelkom die feit dat die regering met ’n dringende ondersoek begin het om die egtheid van die bewering en die bestaan van die brief vas te stel. “Die misdadigers moet die gevolge van hul dade dra.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.