
Die gerugte dat brandstigting verantwoordelik is vir hewige brande wat in die Wes-Kaap woed, bevat ’n mate van waarheid. Die knelpunt is egter wat die motief agter die brandstigting is.
Die afgelope paar dae is talle stemboodskappe deur middel van Whatsapp rondgestuur waarin beweer word dat brandstigters vanuit helikopters gesien kan word waar hulle die veld aan die brand steek.
'Kinders verantwoordelik in Overberg'
Mnr. Reinhardt Geldenhuys, hoofbrandoffisier van die Overberg-distriksmunisipaliteit, het in ’n onderhoud op Radio 702 gesê bewerings dat politieke of kwaadwillige motiewe agter die brande is, is ongegrond wat die Overberg-omgewing betref.
“Ons vlieëniers het kinders gesien wat in die Grabouw-omgewing brande stig. Daar is egter geen aanduiding van ’n politieke motief of selfs beplande misdadige aktiwiteit met brande in die Overberg nie,” het Geldenhuys gesê. “Die oomblik dat helikopters in die omgewing begin vlieg, stig kinders meer brande. Die helikopter sal aan die een kant ’n brand bestry en hulle dan sal aan die ander kant ’n brand stig. Ons sal met ’n voertuig reageer en as ons op die toneel opdaag, sal die kinders vir ons sê: ‘Nee, nee, moenie dié brand blus nie. Ons wag vir die helikopter.’ ”
Geldenhuys het ook vertel dat ’n onlangse noodlottige brand by Caledon ontstaan het nadat kinders aan die verkeerde kant van ’n brandbaan met vuurwerke gespeel het.
Groot skade
Volgens Agri Wes-Kaap word die skade weens brande in die provinsie reeds op miljoene rande geraam. Dit sluit skade aan wingerde, boorde, landbou-infrastruktuur, geboue en vee in. Me. Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder by Agri Wes-Kaap, sê egter volledige ramings sal eers oor ’n hele ruk beskikbaar wees. “Die brand by Stilbaai is ’n probleem. Dit brand nog in Stilbaai en ook naby Albertinia.”
Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het versoek dat die publieke gevalle van brandstigting by die Suid-Afrikaanse Polisiediens moet aanmeld. “Op die oomblik is ons fokus daarop om die brande wat steeds woed te blus. Ons ondersoek egter die oorsake van brande sodra ons kan.”