
Die projek word gesamentlik aangepak deur AfriForum, Saai en die Boiphithelelo-koöperatief by Noga’s Post in die Barolong Boo Seleka-koninkryk naby Thaba Nchu in die Vrystaat. ’n Totale koringoes van 8,5 ton is gestroop en by OVK se Tweespruit-tak gelewer.
Die koring is in 2022 tydens die winterseisoen aangeplant, maar hoë reënval gedurende die somerseisoen het verhinder dat hulle sonneblom kon plant.
“ ’n Reis van duisend myl begin met ’n enkele tree,” sê hoofman Gabo Moroka van die Barolong See Seleka.
“Om die Thaba Nchu wat ons so begeer ’n werklikheid te maak, moet ons vasbyt. Ons moet ook ’n kultuur van selfdoen as gemeenskappe kweek. Volhoubare ontwikkeling vind plaas deur inspanning en ek bedank ons vennote dat hulle my visie omarm het en dat hulle toegewyd bly om die reis saam met my aan te pak.”
Hy sê die projek dien as ’n nederige voorbeeld van wat bereik kan word deur samewerking en is ’n bewys van toewyding om ’n volhoubare, selfstandige en welvarende nasie te word.
Mnr. Barend Uys, hoof van kulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, voeg by dat die stabiliteit van gemeenskappe ’n vereiste is vir ’n voorspoedige toekoms vir die toekomstige geslagte van kultuurgemeenskappe in Suider-Afrika.
“Goeie interkultuurverhoudings en voedselsekerheid kan verbeter deur kennisoordrag en die bevordering van gemeenskapselfstandigheid deur projekte soos hierdie.”
Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, is hy dankbaar dat die projekspan kon vasbyt deur die nat toestande en dat die koring gestroop en verkoop kon word tot voordeel van die Noga’s Post-gemeenskap. Hy sê die hoë reënval het baie nat lande en oorstromings veroorsaak, wat beteken het dat die toegang tot die lande vir plaaslike kommersiële boere wat as vennote deel is van die projek, beperk was.
“Saai is betrokke by hierdie landbou-ontwikkelingsprojekte om bestaansboere op voetsoolvlak wat die wil en potensiaal het om tot kommersiële boere te ontwikkel, te ondersteun om die doel te bereik.”