‘n Geskil is met lede van die Graanbedingingsraad belê oor loonverhogings, sê Solidariteit.
Luidens ‘n verklaring meen die vakbond landboumaatskappye en koöperasies in die raad moet “die daad by die woord voeg en hulle werknemers vanjaar met ? loonverhoging van minstens 10% vergoed.”
Dié verhoging word geëis want volgens die vakbond se statistiek het ál die werkgewers in die raad in 2011 winste van R18,7 miljoen tot R219 miljoen getoon.
Geleentheid om werknemers te beloon
Mnr. Theunis van Staden, die vakbond se onderhandelaar by die bedingingsraad, sê al die landboumaatskappye in die raad het hulle uitstekende finansiële resultate onder meer aan hulle werknemers se “toewyding”, “motivering” en “kundigheid” in hulle jaarverslae toegeskryf.
“Die werkgewers het nou die ideale geleentheid om die daad by die woord te voeg om hul dankbaarheid vir werknemers se bydrae tot hul sukses ook finansieël te betoon,” sê Van Staden.
Aanbiedinge van 5% en 6%
Volgens die vakbond het die meeste lede loonverhogings van 6% aangebied, terwyl Suidwes en MGK 5% ter tafel gelê het.
Van Staden beskryf die loonaanbod van 5% as “ ? klap in die werknemers se gesig en (dit) sal nie eens met die huidige inflasiesyfer byhou nie. Intussen was Suidwes en MGK se uitvoerende direkteure se vergoeding in 2011 onderskeidelik R11,4 miljoen en R8,1 miljoen.”
Mits die geskilrondte wat nou met die bedingingsraad moet plaasvind op ‘n dooiepunt uitloop, kan dit tot ‘n staking lei. ‘n Datum vir die geskilvergadering is nog nie vasgestel nie.
Die vakbond verteenwoordig lede by GWK, OVK, MGK, Senwes, NTK, Suidwes, NWK en VKB.
16 Februarie 2012