Altesaam R72 miljard is nodig nodig om suksesvol te “hervorm”, sê die woordvoerder van die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.
Volgens mnr. Mtobeli Mxotwa, woordvoerder vir Minister Gugile Nkwinti, moet die departement sowat 82 miljoen ha grond aankoop om te verseker grondhervorming vind op die regte skaal plaas.
Volgens Mxotwa is hulle baie dankbaar vir die bykomende R2 miljard wat mnr. Pravin Gordon, Minister van Finansies, Woensdag (28 Oktober) tydens sy mini-begroting vir restitusie aan die departement toegesê het. “Ons kort egter nog veel meer om restitusie-eise af te handel, maar ons is dankbaar vir die ekstra geld wat die tesourie vir ons kan toeken.”
Nie naastenby genoeg
Intussen sê me. Annelize Crosby, die parlementêre verteenwoordiger vir Agri SA, sy dink dié bedrag is “nie naastenby genoeg” om die agterstand ten opsigte van restitusie uit te wis nie. “Ek dink nie dié geld is genoeg om die departement uit te lig uit die gat waarvan mnr. Sibusiso Gamede, die waarnemende hoof-grondeisekommissaris, vroeër gepraat het nie.”
Die departement het tans ‘n agterstand van sowat R12 miljard ten opsigte van uitstaande grondtransaksies, en vir baie van dié word hulle gedagvaar.
“Dan moet mens ook in ag neem dat die Tesourie verantwoordelik moet optree met belastingbetalers se geld. En aangesien dié departement nie ‘n goeie spanderingsrekord het nie, het hulle dit dalk goedgedink om slegs dié bedrag aan die departement toe te vertrou,” sê Crosby.
28 Oktober 2010